Alhoewel God almagtig is, manipuleer hy nie die mens se lewe nie. Die mens het ‘n vryheid van keuse rakende elke besluit in sy lewe. Elke tree wat ek gee en besluit wat ek neem, is my eie keuse. Die mate wat God my lewe beheer, word bepaal deur die mate wat ek Hom in geloof gehoorsaam en in Sy Woordbeginsels wandel.

Die Vader se hart vir elke persoon is net liefde. Reeds in die Ou Testament sien ons soveel beloftes van God t.o.v. beskerming, genesing en voorsiening. Die Nuwe Testament is die nuwe verbond met nog beter beloftes (Heb. 8:6). Dit is dus nie in God se hart dat ons in enige opsig moet skade ly nie. Jesus het gesê dat Hy gekom het dat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed (Joh. 10:10b).

Waarom gebeur negatiewe dinge dan in die kinders van God se lewens indien dit nie is wat Hy wil hê nie? Joh. 10:10 waarsku dat daar buite ‘n vyand rondloop wat wil steel, slag en verwoes. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Geen persoon, ook nie kinders van God, is gevrywaar teen sy pogings om ons aan te val nie, want ons woon in ‘n gevalle wêreld.

Die vraag is dan of ons enige beskerming geniet teen sy aanslae? God belowe beskerming, genesing en voorsiening, maar dit is my verantwoordelikheid om hierdie beloftes te aktiveer, en sodoende die vyand se aanslae af te weer.

God is alwetend (Ps. 139) en weet dus wanneer die vyand ‘n aanslag teen my beplan. Hy weet ook wanneer daar verkeerde dinge in my lewe is (Ef. 4:27), waardeur ek die vyand ‘n plek gee om te kom steel, slag of verwoes.

God wil voortdurend in intieme verhouding met my staan om my te waarsku teen enige aanslae wat die vyand wil loods. Hy sal my dan deur Sy Heilige Gees, of deur drome of ander metodes, waarsku. Hier lê nou ‘n verantwoordelikheid by my. Ek moet leer om na die Stem van God te luister, dit te herken en dan gehoorsaam daarop te reageer. Die duiwel word nie moeg om aanslae uit te voer nie, maar die kinders van God word moeg om te waak en bid. Ek kan God in gebed vra vir wysheid (Jak. 1:5) en openbaring, sodat ek sal weet hoe om teen die aanslag te waak en bid.

Gehoorsaamheid aan God se Stem sal soms vereis dat ek dinge moet doen wat soms selfs onlogies sal lyk of klink. Dit mag bv. behels dat ek met my motor moet stilhou wanneer God so sê, of dalk glad nie ry nie. Indien ek die vermoë kan ontwikkel om Sy stem te hoor en in totale gehoorsaamheid daarin te wandel, kry die vyand geen plek om te steel, slag en verwoes nie. Deur gehoorsaam te wees, sal ek nie eens weet watter tragedie dalk afgeweer is nie.

Jesus het wel gesê dat daar baie verdrukking en aanslae in hierdie lewe gaan wees, maar Hy het dit reeds oorwin en in Hom is daar vir ons oorwinning in enige situasie (Joh. 16:33).

Hoe groter my gehoorsaamheid en waaksaamheid, hoe minder sal negatiewe dinge my deel wees. Vrees word vervang deur ‘n voortdurende, hardop belydenis van God se beloftes, wat Hy oorvloedig vir ons in die Skrif gee. Ons lewens is ‘n voortdurende danksegging en lofprysing aan God vir Sy beskerming, genesing, voorsiening, wysheid, insig, openbaring, leiding, lering, ens.

Jak. 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val”. (Nuwe Vertaling vertaal versoeking” in Jak. 1: 2 met beproewing”. In die oorspronklike betekenis is hierdie twee woorde baie verwant aan mekaar. Telkens waar die Afrikaanse woord “beproewing” gebruik word, word dit in Engels vertaal met “temptation”, bv. Hand. 20:19, Jak. 1:3, 1 Pet. 4:12.)

As die Skrif sê dat ons die versoeking as vreugde moet ag, sou ‘n mens seker tereg kon vra of die versoeking dan van God af kom.

Die antwoord vind ons in Jak.1:13-14: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikhede weggesleep en verlok word.”

Ons sien dus hier duidelik dat versoeking nie van God kom nie. Versoekings kom van die vyand (versoeker) af. Ek bepaal tot ‘n groot mate self die intensiteit van versoekings in my lewe deur dít waarmee ek my besig hou en wat ek toelaat. Dít waaraan my sintuie blootgestel word, kan my verlei om in allerhande versoekings te verval. Dít waarop ek fokus, dit oorweldig my.

Versoeking kom nie van God af nie. Die vyand, wat daagliks steel, slag en verwoes (Joh. 10:10), wil ons fokus van God af weglei deur allerhande versoekings. Sy doel is om ons verhouding met God te laat skade ly.

1 Kor. 10:13: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra”.

Ek moet daarteen waak. Matt 26:41: “Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Fokus in elke versoeking op die oplossing, nl. Jesus Christus. Hy het reeds die oorwinning oor die vyand behaal (Joh. 16:33, Kol. 2:15).

Ek moet my gedagtes tot gehoorsaamheid in Christus roep om nie aan die versoekings enige plek in my lewe te gee nie (2 Kor.10:5). Ons moet geen plek aan die vyand gee nie (Ef. 4:27).

Elke versoeking wat ek weerstaan, is ‘n oorwinning vir my en lei my op die pad van heiligmaking. Dit is hierdie oorwinning wat ek groot vreugde ag (Jak. 1:2). God beplan nie versoeking om my te toets nie, maar Hy is in alle omstandighede by my en wil my deur alles in oorwinning lei.

Jak. 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val”. (Nuwe Vertaling vertaal versoeking” in Jak. 1: 2 met beproewing”. In die oorspronklike betekenis is hierdie twee woorde baie verwant aan mekaar. Telkens waar die Afrikaanse woord “beproewing” gebruik word, word dit in Engels vertaal met “temptation”, bv. Hand. 20:19, Jak. 1:3, 1 Pet. 4:12.)

Jak. 1:3: “omdat julle weet dat die beproewinge van julle geloof lydsaamheid bewerk”. (“... the trying of your faith...”)

Die woord “beproewing” dui hier op ‘n toets waarvoor die gelowige gestel word. Soos met versoeking, word die beproewing nie deur God bewerkstellig nie. Hy is die Een wat ons bewaar in die uur van beproewing (Openb. 3:10).

Elke keer wat ‘n gelowige voor ‘n versoeking te staan kom en die regte keuse maak volgens die Woord van God, bring dit ‘n beproewing vir ons mee. Ek het ‘n keuse of ek sal toegee aan die versoeking en of ek sal veg om dit teë te staan. Die versoeking bring dus ‘n beproewing of stryd in my t.o.v. my geloof waarin ek staan.

Die beproewing lê vir my, as kind van God, daarin dat ek soms ‘n moelike en ongewilde keuse moet maak waarvoor ek nie noodwendig lus is nie. Wanneer ek ‘n versoeking weerstaan, is dit soms in stryd met my vleeslike begeertes. My kennis van die Woord van God, my gewete en die leiding van die Heilige Gees, sal aan my wys wat die regte keuse in daardie saak is. Net ek alleen kan kies of ek sal toegee aan die versoeking en of ek sal staande bly in die beproewing.

In elke versoeking en beproewing fokus die gelowige op die oplossing, nl. Jesus Christus. Hy het reeds die oorwinning oor die vyand behaal (Joh. 16:33, Kol. 2:15). In Sy krag en in Sy Naam sal ons die oorwinning behaal.

Sou ek vasstaan, fokus op God en téén die versoeking kies, bring dit groot oorwinning vir my mee. Jak. 1:3 “...dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.”

Versoekings en beproewings toets ons oortuiginge en geloof. Indien ons vasstaan en dit oorwin, bewys dit ons opregtheid van hart en dat ons geloof eg is.

Vraag: Laat God dit nie toe om my karakter te bou of my geloof te versterk nie?

Wanneer ek as kind van God, op grond van my geloof in God se Woord, ‘n keuse teen ‘n versoeking maak, verander die versoeking in ‘n beproewing. Ek het ‘n geloofskeuse/-standpunt teen die versoeking gemaak. Sal die versoeking dadelik wyk, net omdat ek ‘n keuse volgens God se Woord geneem het? Beslis nie. Dit sal op alle maniere ‘n aanslag op my wil maak. Nou lê die beproewing, wat lydsaamheid bewerk, daarin: Hoe lank sal ek in die geloofskeuse wat ek gemaak het, bly staan? Die lydsaamheid van my geloof word bewerk. Dit is dus ‘n beproewing van my keuse teen die versoeking.

1 Pet. 4:12 “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging nie...”
2 Tim. 3:12 “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”

Matt. 24:21 waarsku dat daar met die eindtye groot verdrukking sal kom. Die verdrukking en vervolging is deel van die gelowige se wandel op aarde. Die Skrif sê dat daar teen ons as gelowiges aanslae sál wees. Dit is deel van die vyand se plan om ons te keer om die Evangelie te verkondig en om mense van die volkome vryspraak in Jesus Christus te vertel.

Die waarheid wat die gelowiges verkondig, word voortdurend met die leuen gekonfronteer. Daar is dus ‘n voortdurende geestelike stryd (Ef. 6:12).

Daar is egter oorwinning in die verdrukking. Joh. 16:33: “In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Jesus het reeds die oorwinning oor die vyand behaal. Aan die kruis het Hy hom uitgeklee en in die openbaar oor hom getriomfeer (Kol.2;15). Die oorwinning oor die vyand is deel van ons erfenis in Christus. Ons kan in oorwinning heers oor verdrukking.

God is ook nie die oorsaak van vervolging en verdrukking nie, maar Hy is die oplossing in die verdrukking. Daar is die troos van Christus vir ons in verdrukking. 2 Kor. 1:4: “...wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”

2 Kor. 4:8: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie.” Die Woord sê dat ons ons altyd moet verbly (Fil. 4:4); dus ook in verdrukking. Ongeag die omstandighede, fokus ons op God en nie op die feite van die omstandighede nie. Die oorwinning sál deurbreek. Te midde van die verdrukking, verbly ons ons daarin dat ons weet dat die oorwinning daaroor ook reeds behaal is.

Die Skrif leer ons ook dat daar vir ons ‘n groot beloning is as ons vervolging sou verduur.
Matt. 5:10: “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid...”
V 12: “Ons loon is groot as ons vervolg word.”
Rom. 12:14 “Seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie.”
Mat. 5:44 “...bid vir die wat julle beledig en julle vervolg...”

Dit wat jy saai, sal jy maai.

God is heilig en kan nie in die teenwoordigheid van sonde kom nie. Toe Lucifer sonde in die hemel gebring het, is hy gestraf deur uitgewerp te word. Adam en Eva het gesondig deur ongehoorsaam te wees aan God. God kon die sonde nie ongestraf laat bly nie, en hulle het dus die gevolg van hul ongehoorsaamheid gedra. Die straf vir die mens se sonde was dat Hy sy intieme verhouding met God verloor het. Die mens het geestelik gesterf, wat beteken dat die Gees van God onttrek het uit die mens.

In die Ou Testament het God die mens begin voorberei vir Sy plan van volkome versoening tussen Hom en die mens. Hy het aan die volk Israel die wet gegee, en daarmee saam het die mens dan ‘n bewussyn gekry van wat sonde is. Sonde het ook straf meegebring. God het egter, saam met die wet, aan die mens die oplossing gegee, sodat hy nie gestraf sou hoef te word nie. Hy het die Tabernakel en die sisteem van offers, waardeur die mens homself met God kon versoen, gegee. Deur die hele verloop van die Ou Testament sien ons hoe die volk telkemale hul hart van God af weggekeer en vergeet het van die Tabernakel (later die tempel) en nie offers gebring het nie.

Dit was hul eie keuse om van God af weg te beweeg. Dit het noodwendig hartseer, ongelukkigheid en ook straf (die gevolg van hul ongehoorsaamheid) tot gevolg gehad. Dwarsdeur die Ou Testament sien ons hoe God voortdurend die volk deur profete, rigters en konings teruggeroep het na Hom. Wanneer hulle teruggekeer het, was Hy onmiddellik daar om Sy oorvloedige liefde en genade oor hul uit te stort.

God se verlossingsplan het in werking getree toe Jesus aan die kruis gesterf het. Hy is sonde vir ons gemaak (2 Kor. 5:21), en het in ons plek gesterf om die volle prys vir alle sonde van die verlede en toekoms te betaal. Die skuldbrief teen ons is uitgedelg en weggeruim (Kol. 2:14). Aangesien Jesus vir alle sonde gesterf het, kan God dus nie meer sonde straf nie. Sonde is, in God se oë, ‘n afgehandelde saak, en aan ons sondes en ongeregtigheid sal Hy nooit meer dink nie (Heb. 10:17).

Indien sonde ‘n afgehandelde saak is in God se oë, kan Hy my dus nie meer tug of straf wanneer ek sonde doen nie. Jes. 53:4-5: “Nogtans het Hý ons krankhede op Hom geneem en óns smarte dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom...”

Indien God my nog moes straf, sou dit beteken dat die straf wat Jesus gedra het, nie voldoende was nie. Dan was dit nie die vólle prys wat Hy betaal het nie. Daar bly ‘n straf/oordeel oor vir die persone wat die offer, nl. Jesus, verwerp (Joh. 16:9).

Dit beteken egter nie dat ek nou maar kan sondig en doen wat ek wil nie. As ek regtig erns maak met die offer wat Jesus gebring het, sal ek uit liefde en respek vir Hom geen behoefte meer aan sonde hê nie. Sou ek sondig lewe, beroof die sonde my van intimiteit met God, en ontsê ek sodoende myself van die voorreg om in my volle erfenis te wandel. Ek sal beslis uit eie keuse skade ly in my lewe. Deur sondig te lewe, laat ek ook ‘n deur vir die vyand oop om in my lewe te kom steel, slag en verwoes. Ek dra die gevolge van dít waarmee ek my besig hou.

Indien die straf van sonde ‘n afgehandelde saak in God se oë is, kan Hy my dus nie meer deur omstandighede bv. siekte, bankkrotskap, ongelukke, die dood van ‘n geliefde, ens. straf nie. Dit sou beteken dat God lieg (Num 23:19) en Jesus nie die volle prys betaal het nie.

Hoe verstaan ons dan Heb. 12:5-6: “...My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.”

  • Tugtiging

    Dieselfde woord (“paideuo”) wat in die Grieks gebruik word vir “tugtiging” (Heb. 12:6), word ook in 2 Tim. 3:16 gebruik vir “onderwysing”.
    2 Tim. 3:16-17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke werk volkome toegerus.”

    Die doel van die hele Skrif is dus om ons te onderrig in hoe God wil hê ons moet wandel. Wanneer God ons in liefde “tugtig”, wys Hy ons deur die Skrif tereg. Hy wys ons wat die korrekte optrede sou wees; hoe Hy sou wou hê ons in sekere situasies moet optree, reageer en doen. Om deur die Skrif tereggewys te word, is beslis nie altyd ‘n aangename ervaring nie. Dit vra soms van ons om onsself af te lê, te verander en aan ons persoonlikhede te skuur en skaaf. Ons is nie volmaak nie en sal dus voortdurend deur die Skrif (deur selfstudie of prediking) “getugtig”, onderrig, gelei en geleer word om meer en meer in volmaaktheid met God te wandel.

    God straf ons dus nie meer nie, maar ondderig ons deur Sy Woord. Dikwels hoor ons die argument dat God omstandighede gebruik om ons te snoei om beter vrug te dra. Vers 3 van Joh. 15 sê egter dat ons reeds gesnoei is deur die Woord. God gebruik dus nie omstandighede (siekte, ongelukke, teëspoed, ens.) om ons te snoei nie.
    Joh. 15:3 (Nuwe Vertaling): “Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat ek vir julle gesê het.”
    John 15:3 (Amp.): “You are cleansed and pruned already, because of the word which I have given you (the teachings I have discussed with you.)"

  • Bestraf

    In die Griekse teks word die woord “elencho” gebruik. Die betekenis van die woord is om ‘n fout uit te wys, te oortuig of om tereg te wys. God gebruik Sy Woord en die leiding van die Heilige Gees om ons te lei in ons wandel met Hom.

  • Kasty

    Die woord “mastigoo” word in die Griekse teks gebruik. Dit beteken om letterlik of figuurlik met ‘n sweep te slaan. In Heb. 12:9-10 word gepraat van aardse vaders wat fisies kasty met die sweep of plak. Die figuurlike gebruik van die woord is van toepassing op ons Hemelse Vader, wat ons geestelik kasty met Sy Woord.

    Heb. 1:1: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae met ons gespreek deur die Seun.”

    God praat vandag nie meer deur omstandighede met ons nie, maar deur Sy Seun, Jesus Christus, die lewende Woord (Joh. 1:1 en 14).