|
Deur die eeue heen is mense se waarde deur hulle velkleur, finansiële posisie, omstandighede, voorkoms, ens. bepaal. Mense word vasgevang deur die feite en realiteite van dit wat hulle elke dag ervaar. Dit is geen wonder dat mense al glo dat alles so negatief moet wees nie! Mense beskou hulle en ander se lewens as waardeloos. Die gevolg van al hierdie negatiewe denke is dat mense nooit hulle volle potensiaal, voorregte en die erfenis wat hulle deel in Christus Jesus is, ervaar nie.
Die mensdom leef onder sy potensiaal as gevolg van sy onkunde oor wie hy werklik in Jesus Christus is. Die duiwel wend elke denkbare poging aan om op elke moontlike manier hierdie kosbare erfenis in Jesus Christus van jou weg te hou. Indien jy onkundig is, dan kan die vyand (duiwel) jou lewe beheer.
Hosea 4:6 "My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis."
Hierdie artikel wil vir jou vertel wie jy werklik is en wat jou ware potensiaal, voorregte en erfenis is. Hier is die groot geheim:
Gen.1:26-28 "En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
V27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
V28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip."
Wanneer ons dit lees, sien ons dat God die mens baie spesiaal en kosbaar geskape het. God se plan met die mens is om met Sy onvoorwaardelike liefde in die mens te woon en om deur die mens Sy heerskappy oor die aarde uit te voer. Omdat God die mens lief het, het Hy aan die mens 'n volkome vrye keuse gegee. Liefde kan nie dwing nie en God dwing ons ook nie, want anders is Hy mos nie lief vir ons nie. Die mense is dus nie as robotte geskape nie. Ons kan ook nie sê dat die mense net poppe is waarmee God speel nie. God sê wel vir ons hoe ons moet kies, maar ons moet self die keuses maak. God het die waarde van die mens bepaal. Die mens is so kosbaar dat God met al Sy volheid, Sy krag, Sy almag, ensovoorts in hierdie tempel (die mens) wil woon. Niks was vir die eerste mense onmoontlik nie, omdat God met hulle was. Hulle verantwoordelikheid was om oor die aarde en alles daarop, te heers deur God se krag. God se opinie oor die mens was dus dat die mens baie spesiaal is en dat die mens oor die aarde as Sy verteenwoordigers sal heers. Adam en Eva het na 'n leuen van die vyand (duiwel) geluister en daarom 'n verkeerde keuse gemaak. God het vir hulle gesê wat hulle nie mag doen nie, maar hulle het self besluit om die verkeerde keuse te maak. So het die sondeval plaasgevind en het die mens as gevolg van sonde hulle waarde voor God verloor. God het hoë verwagtinge van die mens gehad, maar toe hulle verkeerd besluit het, het hulle waarde in God se oë gedaal. Die mens kon nie meer in dieselfde verhouding met God wees nie. Deur Adam en Eva se verkeerde keuse het twee dinge gebeur:
- Die mens het geestelik gesterwe. Met ander woorde, die Gees van God het uit die mens onttrek. God se Gees het nie meer in die mense se harte gewoon nie.
- Daar het 'n skeidsmuur van sonde tussen God en die mens ontstaan. Dit het die mens van sy waarde beroof. Die mens was a.g.v. sonde nie meer waardig vir 'n verhouding met God nie.
Toe God die mens geskape het, het Hy alle mag en gesag aan die mens gegee, maar deur die oortreding van Adam, het die mens al sy gesag en mag aan die vyand gegee. Toe die mens val vir die duiwel se slinkse plan, toe steel die duiwel al die gesag vir hom. Die duiwel herinner selfs vir Jesus daaraan.
Lukas 4:6 "En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil."
Adam het weliswaar misluk, maar God se plan bly nog steeds dieselfde. God het nie Sy plan laat vaar net omdat Adam ongehoorsaam was nie. Nee, God het reeds in die tuin van Eden 'n plan bedink om alles weer te herstel. Die hele Ou Testament vertel vir ons van hierdie plan en wys gereeld na die kruis van Jesus, na die oplossing - daar waar alles weer volkome herstel gaan word. Onthou dat God die Vader liefde is en dat Hy smag na 'n liefdesverhouding met die mens. Die sonde het dit onmoontlik gemaak vir hierdie verhouding tussen God en die mens, want sonde het die mense onwaardig gemaak vir so 'n liefdesverhouding. Om hierdie verhouding tussen God en die mens weer te kan herstel, moes dit wat die mens onwaardig vir hierdie verhouding gemaak het, uit die weg geruim word. Dit sou verseker dat die waarde van die mens weer herstel sou word.
Die volgende baie eenvoudige voorbeeld sal mooi vir jou verduidelik en vir jou laat besef hoe kosbaar en spesiaal jy vir God is. Jy sal ook verstaan hoe lief Hy jou het. As ek by die kafee 'n Coke wil koop en hulle sê die Coke kos R3.00, is dit die waarde van die Coke. Dit is wat die Coke werd is. Ek kan nie sê: Ek soek 'n Coke, maar ek gaan julle net R2.00 betaal nie. Hulle sal dit nie aan my verkoop nie, want ek moet die waarde van die Coke gee in ruil vir die Coke. Luister mooi: As ek bereid is om my R3.00 te gee om die Coke in die hande te kry, sê ek eintlik daardeur dat die Coke vir my hoër waarde het as die R3.00 in my hand.
Dit is presies wat gebeur het toe God die mensdom se waarde herstel het. Die prys wat God bereid was om vir die mens te betaal, het jou waarde bepaal. Die gelykstaande waarde van die mens was dus die prys wat betaal moes word. Dit was Jesus.
Verstaan jy dit mooi? Glo jy dit regtig? Jou waarde by God is gelykstaande, ja selfs hoër, as die waarde van Sy eie Seun, Jesus! In die Ou Testament het die mense alles probeer om self hulle waarde voor God te herstel, maar niks was goed genoeg om dit te kon doen nie. Nie eers die nakom van die wet kon hulle waarde herstel nie. Daar was niks waardevol genoeg om die herstel te bewerk nie. Onthou, God het die mens se waarde bepaal. Hy was dus die enigste een wat dit weer volkome kon herstel. Om dit te kon herstel moes Hy dit wat die mens onwaardig gemaak het, uit die weg ruim, nl. sonde. Jesus Christus het toe aarde toe gekom om die sonde uit te delg en dit vir die mens weer moontlik te maak om in 'n volkome liefdesverhouding met God die Vader te leef. God herstel toe die waarde van die mens en toe kon Hy Sy aanvanklike plan met die mens voortsit. Adam het misluk en die mens het Sy waarde deur die sonde verloor. Die sonde het die skeidsmuur gevorm tussen God en mens, maar Jesus het kom sterf en as "laaste Adam" die herstel gebring. Alles wat die eerste mens, Adam verbrou het, het Jesus as die "laaste Adam", weer kom herstel.
Die twee belangrikste goed wat by die sonde-val verkeerd geloop het, het Jeus weer herstel.
- Die skeidsmuur van sonde tussen God en mens het Hy kom afbreek aan die kruis.
Rom. 5:8 "... maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was."
Kol. 2:14 "... en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,"
2 Kor 5:19-21 "... naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.
V20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
V21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom."
Nou is dit wat die mens onwaardig voor God gemaak het, uitgedelg. Die mens is danksy die kruis van Jesus weer waardig om in 'n verhouding met die Vader te staan. Deur die soenverdienste van Jesus is elke mens waardig voor God verklaar.
- Nou is dit weer moontlik dat die Gees van God in die mens kan kom woon. Die Gees lei die mens in die volle waarheid. Deur 'n wilsbesluit van Adam het die mens sy verhouding met God verbreek. Nou, op grond van die verlossing in Jesus, kan die mens deur 'n wilsbesluit weer die verhouding herstel. Dit doen die mens deur die verlossing wat Jesus bied, in geloof te aanvaar en dan word hy/sy met die Gees van God vervul. Die verhouding tussen God en mens is dan volkome herstel.
Aan die kruis, terwyl Jesus die skeidsmuur afgebreek het, het hy die gesag en mag wat die mens (Adam) aan die vyand gegee het, teruggeneem en die duiwel kaal gestroop.
1 Joh. 3:8 "Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek."
Paulus praat van die duiwel as hy na die "owerhede en magte" verwys in sy brief aan die Kolossense:
Kol. 2:15 "... nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het."
Alle gesag en mag is in Jesus Christus.
Matt. 28:18 "En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde."
Alle mense is weer waardig verklaar deur Jesus Christus om hierdie gesag en mag te kan bevat. God se plan van die begin af, was dat Sy heerskappy op aarde deur die mens sal geskied. Die oorwinning wat Jesus oor die duiwel behaal het, moet deur die mens op aarde sigbaar word.
Indien dit dan alles waar is, wat moet ek dan maak om dit deel van my lewe te maak? Wat moet ek doen sodat ek ook die oorwinning kan ervaar? Dit is nodig dat jy moet hoor, glo en aanvaar dat Jesus reeds in jou plek gesterf het. As jy in geloof hierdie belydenis maak en Jesus wat reeds in jou plek gesterf het aanvaar, word jy Geestelik van bo gebore. Jy ontvang dan die Gees van Jesus wat in jou kom woon.
Gal. 4:6 "En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!"
Jy word 'n nuwe skepsel (skepping) in Christus Jesus.
2 Kor. 5:17 "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."
Dit is wat Jesus vir Nikodemus in Joh. 3:3-6 verduidelik het.
Joh. 3:3 "Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
V4 Nikodemus sê vir Hom: Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?
V5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.
V6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees."
V5 sê jy moet 'n geestelike geboorte kry.
Wanneer ek in geloof Jesus Christus aanvaar en die Heilige Gees kom woon in my, is ek 'n nuwe skepping in Christus. Nou kan ek begin ervaar wat my erfenis is en begin beleef hoe God my deur Jesus Christus sien.
Terwyl jy dit lees dink jy seker aan alles wat jy al verkeerd gedoen het in jou lewe, en jy wonder dalk wat God oor jou verlede dink. Hier is die goeie nuus: Jy het nie meer 'n verlede nie! Jy is 'n nuwe skepsel.
2 Kor. 5:17 "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."
Jy is 'n nuwe skepsel. God het reeds vir al jou sonde, foute en misstappe gesterf. Hy kom nie nou en sê dat jy nie goed genoeg is, omdat jy iets in die verlede verkeerd gedoen het nie. Dit was ook waar vir Saulus/Paulus wat op pad na Damaskus, 'n ontmoeting met Jesus gehad het. Hy het 'n nuwe skepsel geword en sy wrede verlede was vergete voor God. Die samelewing sal nog jou verlede voor jou gooi, maar die getuienis van die nuwe lewe/wandel in God se liefde, herstel die skade wat mense se opinies aanrig. Jy is nou mede-erfgenaam van Jesus. Jy is nie meer 'n sondaar nie, maar is nou familie. Ja, jy is 'n kind van God.
Gal. 4:5-7 "... om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
V6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!
V7 Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus."
Rom. 8:16-17 "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
V17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word."
Hierdie tekste sê jy is mede-erfgenaam van Jesus. Dit wat aan Jesus behoort, behoort ook aan jou. Hierdie erfenis is nie vir eendag in die hemel nie, dit is vir hier en nou. God is jou Vader wat met Sy liefdevolle hart jou net wil geniet, seën en bederf, want daar is geen kwaad of ongelukkigheid in Sy hart teenoor jou nie. Die wêreld het verkeerdelik God gebruik om ons mee bang te maak en om ons mee te manipuleer. Indien jy 'n misstap gedoen het, is daar vir jou gesê dat God jou nou gaan straf, want Hy is kwaad vir jou. Nee! Dit is nie waar nie! Die volle straf is reeds deur Jesus in jou plek gedra. Jy is waarlik waar kind van die liefdevolle Hemelse Vader en jy kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan, al het jy ook iets verkeerd gedoen en gesondig.
Beteken dit nou dat ek maar net kan aanhou met sondig en verkeerde dinge doen, want God het reeds die straf gedra? Nee beslis nie, want nou wil jy nie meer sondig nie, want jy het jou Hemelse Vader baie lief omdat Hy Sy Seun laat sterf het vir jou sondes. As ek my besig hou met sonde, gee ek die Satan die reg om in my lewe te steel, te slag en te verwoes. Dit is fataal om my met sonde besig te hou. Elke dag gaan jy as Sy kind net probeer om meer en meer soos Hy te wees. Jy is meer as oorwinnaar.
Rom. 8:37 "Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het."
Jesus het die verskriklike stryd teen vrees in Getsémané gestry, asook die wrede kruisdood deurgegaan en daardeur volkome en totale vryspraak en oorwinning oor die vyand en die wêreld behaal.
Kol. 2:14-15 "... en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
V15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het."
Joh 16:33 "Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Ek en jy het geen bydrae tot daardie oorwinning gelewer nie, maar die voordele en erfenis van die oorwinning, behoort aan ons deur Jesus Christus.
NB! Ek en jy hoef nie met 'n wurm- of minderwaardigheids-mentaliteit te lewe nie. Die vyand het geen reg of mag om ons in neerlaag vas te vang nie, want ons sit op die Oorwinnaar se skouers. As 'n krisis kom, kan ons net na die Oorwinnaar gaan en die vyand moet padgee.
Jak. 4:7 "Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug."
Ons oorwinning is 'n persoonlike keuse. Ek besluit self of ek gaan fokus op die Oorwinnaar wat reeds 2000 jaar gelede vir my die oorwinning behaal het, of ek besluit hoe lank ek die vyand gaan plek gee in my lewe.
Efes. 4:27 "... en gee aan die duiwel geen plek nie."
Jy is tot alles in staat
Fil. 4:13 "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee."
Daar is geen krisis, probleem, versoeking, ens. wat oor jou pad kan kom, waaroor Jesus nie alreeds die oorwinning behaal het nie.
1 Kor. 10:13 "Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra."
Jesus is die uitkoms, daarom kan geen versoeking bo ons kragte wees nie. Ongelukkig het die wêreld ons geleer dat elkeen maar sy eie swaar las moet dra en so die indruk geskep dat ek nie sommer met enige ding na my Hemelse Vader kan gaan nie. Mense leef vandag in neerlaag want hulle ken nie die liefde van hulle Vader, asook hulle volle erfenis in Hom nie. Jy is 'n kind van God en daarom 'n oorwinnaar.
1 Joh. 5:4 "Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof."
Alles wat jy nodig het op hierdie aarde is jou erfenis in Christus Jesus en meer nog, Hy woon voluit in jou.
Kol. 1:9-10 "Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig,
V10 sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei"
Alle liefde, krag, kennis, wysheid, ens. is jou deel. Begin dit net glo en lewe daarvolgens. Jy is die geregtigheid van God.
2 Kor. 5:21 "Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom."
Wat beteken dit? Daar het 'n omruiling aan die kruis plaasgevind om jou te herstel in die Vader se oë. Jesus het alles geword (sonde) wat jy was en is, sodat jy kan word dit wat Hy was en is. Hy het dus ons beeld voor die Vader volkome herstel. Nou het ons die status as kind van God. Ons het baie keer die gedeelte gehoor wat sê: "daar is niemand regverdig nie, ja geen een". Ons moet egter onthou dat dit voor die kruisiging van Jesus was. Hy het ons absoluut waardig verklaar op Golgota. Herstel is eenmalig en vir altyd vir elke mens op aarde gebring deur die offer van Jesus.
2 Kor. 5:19 "... naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou."
Slegs die wat hierdie versoening in geloof aanvaar, sal dit in hulle lewens ervaar. Jy is geregverdig op grond van dit wat Jesus gedoen het en nie op grond van enige iets wat jy kan of hoef te doen nie. Jy is 'n bo-natuurlike, spesiale, baie kosbare persoon vir God. Jou ware identiteit en waarde lê nie in dit wat die mense om jou sê nie. Ook nie in wat jy deur omstandighede a.g.v. 'n gevalle wêreld ervaar nie. Jy moet jouself begin sien, soos God jou sien. Jy moet begin dink oor jouself soos wat God van jou dink. Dit is ook baie belangrik dat jy moet begin praat oor jouself soos God oor jou praat. Hy sien jou as baie spesiaal, want jy is die tempel waarin Hy woon met al Sy Heiligheid, almag, liefde, ens. Jy kan mos nie minderwaardig wees as die Koning van die Heelal in jou woon nie. God het jou onvoorwaardelik lief!
1 Pet. 2:9 "Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig."
Dit is God se woning waarvan Hy nou praat. Jy is 'n bo-natuurlike kanaal, want die bo-natuurlike God woon in jou en wil elke dag deur jou Sy liefde in die wêreld versprei.
Ons het so groot geword dat ons soms so 'n bietjie droom en lugkastele bou en dan word ons weer tot die werklikheid teruggeruk deur die realiteitsuitroep: "Ja maar!" Net sodra iemand oor iets opgewonde raak, kom die "ja maar" redenasie na vore wat net sê jy kan nie so praat of dink nie en dan word al die negatiewe argumente aangehaal. Ook word daar 'n paar vrae gevra wat dan gestaaf word deur die wêreldse realiteite en feite, asook deur persoonlike ervarings. Hier is 'n paar voorbeelde:
Hierdie goed klink fantasties, maar hoekom ervaar ons dit nie?
Hoekom laat God dan al die negatiewe goed toe?
Wil jy sê dat dit altyd goed moet gaan met kinders van God?
Daar is nog baie vrae wat gevra kan word. Hoekom vra enige mens vrae oor 'n sekere saak? Slegs omdat daar nog 'n sekere vlak van onkunde daaroor is. God sê in Sy Woord dat die mense skade ly weens 'n gebrek aan kennis.
Hosea 4:6 "My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis ..."
Die oorsprong van hierdie onkunde is omdat mense nie ten volle besef wat op Golgota (die kruis) gebeur het nie. Ons moet ophou om enersyds te bely oor die oorwinning van Jesus Christus aan die kruis, net om daarna dit dan weer meer aanvaarbaar en makliker te maak deur 'n "ja maar" verduideliking. M.a.w. hou op om een ding te bely, maar 'n ander ding te glo.
So bely ons byvoorbeeld maklik dat Jesus die vloek vir ons geword het. Nou moet ons onthou dat alle negatiewe goed wat in ons lewe gebeur die werke van die vyand (duiwel) is wat net wil steel, slag en verwoes. Dit is dus die vloek waarvoor Jesus Sy lewe gegee het. Maar aan die anderkant glo ons nog steeds dat Jesus negatiewe goed toelaat of gebruik in Sy kinders se lewens om hulle iets te leer. Wat ons dus bely is nie dit wat ons glo nie.
Joh. 8:31-32 sê vir ons: Bly in die Woord en die waarheid van hierdie Woord sal jou vrymaak.
Joh. 8:31-32 "En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.
V32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak."
Hoe meer waarheid jy inkry en hoe meer jy daarop fokus, hoe meer sal jy vryheid ervaar. Jy moet hierdie waarhede in geloof aanvaar en dit daagliks in jou lewe toepas, voordat jy dit sal begin ervaar. Pasop vir pragtige, vroom mense met 'n baie nederige geestelike voorkoms wat die krag van die oorwinning in Jesus Christus eintlik afbreek. Hulle sal jou met 'n mooi geestelike woord, wat reg mag klink, probeer vashou in slawerny.
Jy moet onthou:
- Jy is vrygekoop!
- Jy is baie spesiaal!
- Jy is 'n nuwe skepsel!
- Jy is mede erfgenaam!
- Jy is meer as oorwinnaar!
- Jy is tot alles in staat!
- Jy is die geregtigheid van God!
- Jy is die kosbare, bo-natuurlike kanaal waardeur God wil werk!
Alles hiervan is jy in Christus Jesus. Hy wil dit in jou lewe 'n werklikheid maak, maar jy moet Hom toelaat, want ek en jy moet Sy heerskappy, Sy koninkryk hier op aarde vestig.
As jy nog altyd gedink het dat jy niks werd is nie en dat Jesus nie in jou belangstel nie, is jy verkeerd. Hy het jou baie lief en smag daarna om in 'n liefdesverhouding met jou te wandel. Jy moet net hierdie liefdesaanbod in geloof aanvaar, want Hy het reeds jou skuld betaal, sodat jy in verhouding met Hom kan staan. Jy kan hierdie liefdesaanbod aanvaar deur 'n eenvoudige gebed te bid. Onthou God wag reeds vir hierdie gebed. Daarom lees ons in Openb. 3:20 "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My." Jy kan jou eie gebed bid, maar indien jy onseker is kan jy die gebed hieronder bid.
Vader, baie dankie dat U reeds deur Jesus Christus vir al my sondes betaal het en dat ek volkome regverdig voor U staan. Ek kom vandag met dankbaarheid na U omdat U geen veroordeling teenoor my het nie, maar slegs onvoorwaardelike liefde. Ek kom in die Naam van Jesus Christus en ek aanvaar die offer wat in my plek betaal is. Ek aanvaar U as die Verlosser, Koning en Here van my lewe. Dankie dat U my nou 'n nuwe skepsel maak en dat U deur U Heilige Gees in my kom woon met al U volheid. Dankie dat ek as U kind nou mede-erfgenaam kan wees in Jesus Christus van alles wat U aan die kruis vir my bewerk het. Ek stel my lewe oop as 'n kanaal waardeur U met U volheid kan vloei. Ek is lief vir U Pappa. Amen.
|